Ek is gevra om ‘n toespraak te lewer vir P J Olivier se reünie vanaand. Hierdie is waarmee ek vorendag gekom het:

My naam is Attie Heunis en ek verteenwoordig die klas van 1991 vandag. Ek wil net sê dat is dit nie ooglopend hoe dat al die ander klasse skrikwekkend ouer geword het nie, maar dat ons klas opmerklik nog net dieselfde lyk, maar net wyser is!!

Mnr Snijders, Personeel, Oudskoliere en Families,

Die wêreld soos ons hom vandag ervaar is heelwat anders as in 1991.

In 1991 het die Blou Bulle die Curriebeker gewen, die Wallabies het die Wêreldbeker gewen, Stefan Edberg was die Wimbledon kampioen en Ayrton Senna was die F1 kampioen. Vandag is die Blou Bulle laaste in die Curriebeker, die Bokke is die wêreldkampioene, Djokivic is die Wimbledon koning en Vettel beheer F1. Die een ding wat nog konstant is is hoedat WP nog steeds in die semi’s uitval.

In 1991 was die tyd van briljante rock bands soos Nirvana, Queen, Alice in Chains, Metallica, Guns & Roses en AC/DC en vir Richard Hartwell, Depeche Mode. Vandag luister ‘n mens na Justin Bieber, Jonas Brothers, Lady Gaga, Beyonce, Rihanna, Selena Gomez en darem Adele.

In 1991 was die somtotaal van tegnologie, die sakrekenaar in jou tas en Smirre (Riaan Smit) se twin-deck radio waarna ons na “duiwelsmusiek” geluister het. Vandag het ons Google, Android, Tablets, .NET, the Cloud, Blackberry, Wifi, WiMAX, iPhone, iPod, iPad en selfs iPood. En so gaan dit aan en aan. Behoorlik die inligtingsera!

Maar op ‘n ernstige noot, in 1991 het Afrikaners die hef in die hand gehad. Of dit nou reg of verkeerd was is ‘n ander saak, maar dit is hoe dit was. Die spreekwoordelike deur was wawyd oop gewees vir Afrikaners. Demokrasie het in 1994 het gekom en nou 17 jaar word Afrikaanses van alle kleure (wit, swart en bruin) gemarginaliseer. Ons taal en kultuur kry dit van alle kante af. Hierdie stand gekoppel met die wêreldwye ekonomiese afname beteken die deur waarvan ons vroeer gepraat het nie meer wawyd oop is nie, maar net op ‘n skrefie vir ons loer. Dinge is nie maklik vir Afrikaanses nie.

Maar “moeilik” bou karakter. Ons moet aanpas by hierdie situasie. Ons moet deur hierdie deur kom. En die sleutel tot hierdie deur is opvoeding. Maar opvoeding in die bree sin van die woord: dit sluit in akademiese opvoeding, maar ook disipline, toewyding, maniere en ook om vrae to vra en nie als te aanvaar nie. Hierdie bree opvoeding is wat entrepeneurskap, innovasie, selfversekerdheid, selfverwesenliking en uiteindelik leierskap stimuleer.

Edward Everett, President van Harvard Universitiet in die 1850s het gesê “Education is a better safeguard of liberty than a standing army.” En dit lui hier en nou!

Met goeie opvoeding breek jy enige deur af – hier in Suid-Afrika of in enige plek in die wêreld. Sonder goeie opvoeding gebeur dit wat in Londen die afgelope week plaasgevind het. Maar in Londen het daai outjies die veiligheidsnet van Sosialisme. Ons in Suid-Afrika het nie daai luuksheid nie. So opvoeding is inderdaad ‘n ernstige saak. Die geniale evolusionis Charles Darwin het dit perfek opgesom toe hy gesê het: “How paramount the future is to the present when one is surrounded by children.”.

Ek wil afsluit deur te sê dat ons – die klas van 1991 – goed oplet dat Dr Snijders en sy personeel PJ Olivier se opvoedingslig weer helder laat brand. Die manier waarop julle hierdie kardinale verantwoordelikhied dra is vir ons oudskoliere ‘n riem onder die hart. Ter ondersteuning sê ons “Mooi so” en “Doen so voort”!

Dankie.