Ek het vandag onwillig my lidmaatskap aan AfriForum opgesê. Dit was vir my ‘n moeilike besluit gewees. Ek is deur van my vriende gewaarsku dat Afriforum nog steeds die verkramptes is, net in ander gewaad. Ek het dit nie geglo nie en het lekker groot gepraat oor al Afriforum se indrukwekkende oorwinnings in die hof en hoe hulle die politieke landskap verbeter vir minderhede en Afrikaanssprekendes.

Dit was dus met skok dat ek vandag in AfriForum se nuusbrief verneem het van hulle teenkanting teen die Afrikaanse Vrydenkersbeweging (AVB) se aandrang dat alle skole ons land se wette rakende opvoeding moet nakom. Spesifiek gaan dit oor die beoefening van die Christen geloof in ons skole. Die AVB en ek, wat nie ‘n Christen is nie, wil nie hê dat belasting geld moet betaal om ons mense te probeer bekeer nie. AfriForum, blyk dit, wil.

Al is die konsep van ‘n persoonlike god vir my belaglik, is dit nie my saak as ouers hulle kinders wil bekeer (of watookal) nie. Maar ek trek die streep by staatsinstansies waarvoor ek (deur belasting) betaal. Dit is nie die staat se plek om die Christen of enige andere geloof te bevorder nie. Geloof is een ding; die staat ‘n ander. Alle 1ste wêreldse lande respekteer hierdie weldeurdagte, regverdige beleid. Die flip side is lande soos Afganistan en Iran waar fundamentalisme seëvier.

Tot vandag het ek gedink dat AfriForum juis vir die Grondwet staan, maar nou blyk dit heel duidelik dat dit nie altyd die geval is nie. Godsdiensvryheid is iets waarvoor ek al lank baklei. Tesame met Persvryheid is dit vir my van kardinale (verskoon my pun) belang en verseker van die hoekstene van ‘n demokrasie. Die ondermyning van hierdie beginsels deur AfriForum is vir my onaanvaarbaar en ek kan nie dit met my beginsels vereenselwig nie. So ten spyte van al die fenomenale werk wat AfriForum gedoen het en steeds doen, onttrek ek vandag my ondersteuning (finansieel en moreel) van die groep.