‘n Week gelede is my vriend Juan Jansen koelbloedig vermoor. Hy en sy vrou, Nelmarie, was op pad om kontant van hul besigheid, die Sunshine Coast Spar, in te betaal, toe 4 swart rowers hom doodgeskiet het NA hy vir hulle die geld gegee het. Dit het die hele gemeenskap geskok en vir ons onmiddelike vriendekring nog meer so. Die feite van die insident is egter redelik bekend en nou, na al die emosie en woede, wil ek nie weer hieroor skryf nie. Ek wil eerder skryf oor Jannie, soos sy groot vriend Greg Baxter hom genoem het, toe hy nog gelewe het.

Die Jansens (Juan, Nelmarie, Conrad & Deidré) het net voor ons hier in die omgewing aangekom. Ons het mekaar gegroet ensovoorts, maar ons het hulle eers rêrig in 2007 goed leer ken. Aanvanklik was hulle skaam gewees, maar na ‘n ruk het ons baie goed oor die weg gekom. Die 1ste amptelike ding wat Ek en Lené saam met die Jansens gedoen het was ‘n seekos aand by die Kenton Laerskool. Die eerste ding wat ek alleen saam met Juan gedoen het was ‘n gholf dag in Port Alfred. Ek en hy het teen sy ander (meer bekwame gholfer) vriende gespeel. Ek en hy het sleg verloor daai dag, maar ons het baie goed ge-click. Daai aand was dit sy verjaarsdag paartie en ek, Lené en Elke was daar. Hy het die 29ste Junie verjaar. Ek ook.

Later het ons en hulle bevriend geraak met Greg & Sue Baxter (wat van Kanada af hierheen getrek het) en Tjaart & Fleur Coetzee. Almal van ons het ander vriende ook gehad, maar ons 4 gesinne het regtig baie goed oor die weg gekom. Ons, die Baxters en die Jansens het 2 keer saam weggegaan vir naweke. Die 1ste keer in 2008 was ons Bushman’s Sands toe vir ‘n gholf naweek en die 2de keer was 4 weke vir ‘n naweek op die Kromme Rivier. Ons het ander trips ook saam gedoen soos die Kirkwood Wildsfees en talle braaie, kuiers en selfs wodka-en-sjokolade aande by Tjaart & Fleur Coetzee. 🙂 Dit het net so goed gewerk. Ek het altyd gedink dis ‘n baie spesiale situasie gewees.

Juan was vir my rêrig ‘n inspirerende mens gewees. Hy en Nelmarie het hard gewerk om te kom waar hulle is (was). Somtyds te hard, but they did what they had to. Hulle het ons vertel hoe hard hulle moes werk by Dulce’s, hulle restaurant in Port Elizabeth, en ons kon dit waardeur omdat dit ook maar rof kan gaan by die Red Apple, ons besigheid. Hulle het vir ons ongelooflik baie waardevolle raad gegee. Ten spyte van die harde werk en die sukses wat gekom het was Juan en Nelmarie se voete plat op die aarde.

Juan was ook ‘n gawe siel gewees. Ek het eendag rêrig gesukkel met my setwerk; omtrent ‘n week later daag Juan op by my voordeur met ‘n nuwe setyster wat hy iewers gekry het. Ek het nou nog nie met hom gaan speel nie. Hy het ook vir my ‘n smart gholf baadjie sommer net gegee. En lojaal. By die Kromme Rivier het ek en ‘n ander ou mekaar amper beetgekry. Juan, ten spyte daarvan dat hy nie ‘n bakleier was nie (ek ook nie rêrig nie), het langs my kom staan; gereed vir aksie! Hierdie is maar net my stories, maar al Juan se vriende het dieselfde soort stories.

Juan wou leer oor fotografie. Hy het ‘n kamera op my advies gekoop en ek en hy het ‘n paar lesse gedoen. Nou wens ek ek het meer tyd gespandeer om hom te leer, maar ek wou hom nie druk en hom so afskrik nie. Ek het gedink hy moet dit self ontdek en dan sou ek hom help om verder reg te kom. Ongelukkig het dit toe nooit sover gekom nie. Juan wou altyd meer weet. So was dit ook met ‘n spesifieke saak wat ek en hy van tyd tot tyd bespreek het. Ek gaan dit maar daar laat.

Dit is snaaks maar toe ek hoor Juan is in sy bors geskiet en dit lyk sleg het ek nog steeds nie gedink ons gaan nooit weer vir Juan sien nie. Selfs toe ons daai onvergeetlike nuus gekry het: “Juan is dood”, het dit nie by my ingesink dat ons vriend nou nie meer is nie; ons het nog hulle winkel, die Spar, help toesluit. Dit was eers toe ek daai middag by die hospitaal vir oulaas vir ou Juan gesien het dat ek besef het dis alles verby. Ek was nog nooit in my lewe so geruk nie. Skielik besef jy hierdie great ou, ‘n regte bydraer, is gone. Ek besef dat ‘n mens se nabye familie is sekerlik erger, maar het nog nooit so verlies ervaar nie. Ek dink dit het te doen met die omstandighede van sy dood; toe hy gelewe het was hy so ‘n positiewe ou. Miskien verteenwoordig sy moord vir my die grotere tragedie van ons Suid-Afrika. Ek hoop nie so nie.

Ek en baie ander mense gaan hom vreeslik mis; ons sal nooit sy alomteenwoordige glimlag vergeet nie. Onder is ‘n video/foto huldeblyk aan ou Jannie.