Ek en my familie bly in ‘n klein dorp in die Oos-Kaap. Ek het grootgeword hier, maar ek is gebore op die delwersdorp Carletonville in die Transvaal. Nou my belydenis:  ek is ‘n baie baie groot Blou Bul ondersteuner. Ek weet self nie presies hoekom nie, die goed gebeur mos maar as jy klein is. My pa het vir Noord-Transvaal geswem toe hy jonger was; dit het miskien iets daarmee te doen gehad. Vra enige ou wat my ken en die sal vir jou sê dat my ondersteuning nogal ‘n ernstige saak is. 🙂

Maar so mal soos wat ek oor die Bulle is is dit vir my rêrig belaglik as hulle ‘n drie druk of ‘n wedstryd wen, dat hulle hul god prys. As daar ‘n god was hoekom sou hy spesifiek wou hê dat die Bulle ‘n wedstryd moet wen. Die Sharks het ook ‘n klomp godsdienstige fanate (Jacques Botes ens). Hoe besluit god wie moet wen tussen die Bulle en die Sharks? Ek dink dit het baie meer te doen met wie beter rugby speel en wie harder ge-oefen het. Ek dink rêrig nie god sou vir Pierre Spies bo Luke Watson (ook ‘n groot Christen) kies om goed te speel nie. Pierre Spies is net beter omdat hy fisies meer aangepas is (deur evolusie natuurlik; waarskynlik die onderwerp van ‘n toekomstige post) vir rugby. Of jy nou ‘n Christen is of nie: “God simply doesn’t come into it”.

Ek moet sê ek verwag nie veel meer van rugby spelers nie. Intelligensie is uit die aard van die saak nie ‘n vereiste vir goeie rugby nie, maar dit bekommer my van ‘n grondwetlike oogpunt. Die beheptheid met Christenskap dra nou nie juis by tot die baie belangrike beginsel van godsdiensvryheid nie. Ek dink ‘n Ateïs soos ek of ‘n Moslim sou nie aanvaar word by die Blou Bulle nie. Dis juis vir hierdie rede dat ‘n mens nie godsdiens by die werk (in die geval Loftus Versfeld) beoefen nie. As dit andersom was en almal was Ateïste sou ‘n Christen nie die heeldag Ateïsme in sy keel wou afgedruk hê nie.

Dit bring ‘n mens noodwendig na ons ou vrind Joost 🙂 Kyk ek dink nie Joost is ‘n goeie segsman vir Christenskap nie. Die een oomblik snuif hy kokaïne en verkeer saam met ‘n slet en die volgende oomblik “behoort sy hart aan die Here”. Met sy geloof op sy mou lyk hy nou net soveel meer belaglik. Weereens nog ‘n rede hoekom ‘n mens jou godsdiens privaat hou.

Ek vra dus vir die Blou Bulle (en ander Suid-Afrikaanse sportlui ook) om hulle godsdiens privaat te beoefen en nie dit in mense se kele af te probeer druk nie. Godsdiens is rêgtig tog ‘n persoonlike saak.